Die Bengaalse Kat - Feite en Geite

Die Bengaalse Kat – Feite en Geite

Bengaalse katte is atlete! Lewendig, rats en grasieus met ‘n sterk, gespierde liggaam. Dis ‘n kat wat eerder in die oerwoud hoort. Hulle koppe is langer as wat dit wyd is, met ronde kontoere. Hulle medium tot klein ore is relatief kort. Die nek is lank en gespierd met effens korter voorbene as die agterbene, wat ‘n boog vorm wanneer hulle in ‘n staande posisie is. ‘n Dik, mediumlengte stert verdun na die einde toe en die punt lyk of dit in swart gedip is. Sodra die Bengaal omrol, sien jy nog ‘n eienskap – ‘n maag vol kolle.

Die heel eerste ding wat mense van die Bengaal opmerk, is die wonderlike pels! Dit is nie net pragtig om na te kyk nie, maar dit voel ook weelderig en syagtig. Party Bengaalpelse word beskryf as “skitterend” – die pels skitter in die lig en dit lyk kompleet asof dit in goud gedompel is. 

Die mees algemene kleure is bruin, sneeuwit, silver en blou. Met hierdie kenmerkende gevlekte pels en hulle grootte, lyk die Bengaal nes ‘n wilde kat. Alhoewel hulle voorouer ‘n klein wilde Asiatiese luiperdkat was, is die Bengaal deur en deur ‘n mak huiskat.

Bengaalse Katte is baie gewild en met daai verruklike skoonheid hoef mens nie te wonder hoekom nie. In 1990 het ‘n Britse vrou meer as $50 000 (R700 000) vir haar Bengaalse kat betaal – g’n wonder hulle word die “Rolls Royce” vir katgeselskap genoem nie. 

Die Bengaal is baie aktief en baie intelligent. Dit is pret om saam met hulle te leef, maar met tye kan dit ook baie uitdagend wees. Die Bengaal is baie op-en-wakker, vol selfvertroue, vriendelik en is mal daaroor om te gesels! Hulle hou daarvan om speletjies te speel en hulle leer maklik toertjies aan. Hulle vinnige en ratse beweging met die pote is amper net so goed soos dié van hande. Dit is maar ‘n goeie ding hulle het nie duime nie, anders sou hulle heelwaarskynlik die wêreld regeer het. 

Bengale is ook mal daaroor om te klim. Hulle is glad nie bang vir ‘n nuwe avontuur nie en sal dikwels by die hoogste punt in die huis gekry word. As Bengale verveeld is, kan hulle effens verwoestende gewoontes aanleer.

Die aktiewe en sosiale Bengaal is ideaal vir gesinne met kinders en katvriendelike honde. Hulle kan “vang-en-gooi-speletjies”net so goed soos enige retriever speel. Hulle is mal oor die aandag van kinders wat hulle met hoflikheid en respek hanteer. Hulle is slim genoeg om buite die bereik van kleuters te bly, maar is lief vir kinders van skoolgaande ouderdom omdat hulle dieselfde vlak van energie en nuuskierigheid het. Omdat die Bengaal so intelligent is, is dit maklik hom hulle te leer en hulle reageer ook goed met afrigting. Dis glad nie ongewoon vir ‘n Bengaal-eienaar om sy kat te leer om vir wandelinge te gaan nie, kompleet met ‘n harnas en leiband. Lees ons Engelse blog oor hoe om jou kat te leer sit

Ras: Bengaalse Kat

Land: Verenigde State van Amerika – Kalifornië (1963)

Gemiddelde Volwasse Gewig: Mannetjie: 4.5 – 6.8 kg; Wyfie: 3.6 – 5.4 kg

Lewensverwagting: 12 – 15 Jaar

Oefeningvereistes: Gereeld, speel speletjies, leer nuwe toertjies  

Soortgelyke Rasse: Savanne en Chausie

Hulpverlening in Suid-Afrika: http://bengal.rescueme.org/za

Scroll to Top