Senior Diere - hoe om blapsies in die huis te hanteer

Senior troeteldiere – Hoe om blapsies in die huis te hanteer

Wat gaan aan met jou ou vriend? Hoekom maak hy skielik vuil en piepie in die huis? Daar kan heelwat redes hiervoor wees: fisiese, ouderdoms- of gedragsverwante probleme. Sodra dit begin, of as dit alreeds begin het, moet jy onmiddellik ‘n afspraak by die veearts maak. Dis altyd beter om presies te weet wat aangaan en ‘n behoorlike diagnose te kry. ‘n Ondersoek kan vasstel wat die oorsaak of toestand van die wangedrag is, bv. hardlywigheid, spysverteringsprobleme of selfs ‘n gewas. Indien nodig, sal die veearts medikasie voorskryf.

Begin verouder

Rondom sewe tot agt jaar, bereik honde bejaardheid en raak hulle minder besig en slaap meer gereeld (afhangende van die ras). Hulle energievlakke daal en hulle raak meer gereeld verward en maak blapsies in die huis. Probeer om agter te kom wat hierdie nuwe gedrag veroorsaak. Soms is dit klein veranderinge wat kon gebeur het, of wat besig is om te gebeur, bv. dieetverandering, kinders wat van die skool afkom of ‘n verandering in etenstyd. Hierdie, en soveel ander klein dingetjies, kan vir jou hond ‘n groot verandering meebring. Probeer om te onthou wanneer al hierdie dinge begin het.

Hantering van verandering

Ouer honde doen glad nie goed met verandering nie. Hulle’s ‘n bietjie soos ouer mense wat van ‘n roetine hou en volgens die horlosie leef, of net sekere kosse en drinkgoed nuttig. Beplan dus ‘n etenstyd en dieet wat vir jou en jou hond werk en bly daarby. As jy nie by die roetine bly nie, kan dit maagprobleme veroorsaak. Hulle mae sal sukkel met reëlmatigheid omdat hulle kos op ‘n sekere tyd verwag en daarvoor gereed maak. 

Wat jy kan doen

Moenie kwaad word wanneer jou woef in die huis vuilmaak nie. Ja, daar’s niks slegter as om met ‘n stink poepreuk wakker te word nie, maar bly geduldig. Jy het nou ‘n bejaarde baba en negatiewe reaksie is steeds aandag. Jou woef sal verstaan hoekom jy geïrriteerd is, maar ‘n emosionele uitbarsting kan verdere angs veroorsaak en maak dat sulke blapse meer gereeld gebeur. Vat jou ou baba eerder vir ‘n lekker, ontspanne, lang wandeling om maagwerkings te stimuleer. Moenie hulle aanjaag nie, maak nie saak hoe laat dit is nie. 

Dit is algemeen vir ouer honde om blapse te maak en jy kan hierdie kwessie aanraak deur terug te gaan na die basiese. Begin deur jou hond se kos- en waterinname gereeld dop te hou. Vat jou hond elke dag of aand op dieselfde tyd buitentoe en laat hy homself by sy gunsteling plek verlig. Verbeel jou dat hy ‘n babahondjie of ‘n aangenome hond is. Leer hom weer van vooraf hoe om ‘n draai te loop en maak seker dat jy hom vergoed wanneer hy dit reg doen. Dit mag snaaks voel om hom vir iets te vergoed wat hy veronderstel is om te weet, maar sien dit as ‘n verfrisserkursus.

Dit is belangrik om jou woef gereeld uit te vat, siende dat hulle gou ongemaklik raak en hulle ou blaas werk nie meer soos vroeër nie. Dit mag selfs nodig word om ‘n vriend, bure of ‘n troeteldieroppasser te vra om na jou ou baba te kyk wanneer jy in die dag nie by die huis is nie. Vra jou veearts of hulle nie dalk weet van ‘n goeie oppasser of selfs ‘n hondeskool wat gedurende die dag ‘n ogie kan gooi nie. As jy besluit om ‘n oppasser of ‘n skool te gebruik, vra vir verwysings en maak seker dat hulle mooi na jou ou woef sal kyk. Onthou dat ‘n skool ‘n groot verandering sal wees en verandering mag dalk nie ‘n goeie ding wees nie.  

As jou woef te stadig is en nie betyds buitentoe kan gaan nie (en jy het genoeg spasie in die huis), kan jy ‘n area binne die huis afbaken waar hy sy ding kan doen. Jy kan dit met ‘n babahek afskei en die area met hondedoeke of koerant bedek. Dit sal soveel makliker wees om skoon te maak en ook minder moeite. 

Hou ‘n wakende ogie oor jou ou woef. Om ouer te word is vir julle albei ‘n moeilike proses, so probeer om meer gereeld by die huis te wees en hou ‘n ogie oor sy gesondheid. 

Hier is ‘n paar tekens om voor uit te kyk in geval hulle siek is

  • Gewigsverlies
  • Verlies aan eetlus
  • Diaree of abnormale stoelgang
  • Abnormale waterinname of uiterste dors
  • Abnormale rektumondersoek
  • Spierafname en/of neurologiese skade
  • Verandering in verstandelike vermoë

Onthou: wees geduldig, gee heeldag en aldag GROOT drukkies en soentjies en maak hom so gemaklik as moontlik. Wees sy held in sy ouderdom, nes hy sy hele lewe lank jou held was. 

Scroll to Top