Oefening en Fiksheid - verloor gewig na die vakansie

Oefening en fiksheid na die vakansie

Agnee, die vakansie is alweer verby! Dit was lekker en ontspannend, dalk ‘n bietjie té veel as jy so na jou maag kyk! Maar nouja, dit was als die moeite werd. Met jou een oog vang jy egter jou ou woef wat so rustig langs jou lê en skielik raak jy ‘n bietjie bekommerd. Lyk my hy’t ook die vakansie ‘n bietjie te veel geniet… 

Oorgewig is glad nie gesond nie, nie vir jou nie en beslis nie vir jou woef nie. Dit kan heelwat probleme veroorsaak as jy dit nie so gou as moontlik probeer hokslaan en begin oefen nie! Maar eers moet jy by ‘n kenner uitkom. Die veearts sal jou presies vertel hoeveel jou hond opgetel het en hoeveel hy moet verloor om sy doelgewig te bereik. Die veearts sal ook vir jou kan sê hoeveel kos en hoe gereeld jy hom moet voer en sal dalk selfs ‘n hondekos met laer kalorieë aanbeveel. Net soos met mense moet jy geduldig wees, gewigsverlies gebeur nie oornag nie, veral nie by ouer honde nie. 

Die beste deel daarvan om weer jou woef in vorm te kry is dat jy saam met hom kan oefen, jip, julle kan saam pret hê en in ‘n japtrap weer ‘n gesonde gewig hê. Onthou asseblief dat veiligheid altyd eerste kom met enige oefening. Kyk na jou woef en hou hom altyd onder oë. Maar meeste van als, geniet hierdie tydjie terwyl jy ‘n nog hegder band met jou hond smee.  

1. Kom ons gaan stap!

Stap is een van die mees effektiewe oefeninge wat jy kan doen – ‘n kardiosessie verrig wondere! Nie net sal jy dit geniet om met jou hond te stap nie, maar hy sal MAL wees oor die tydjie buite en al die verskillende reuke. Maar moet nou nie net om die blok gaan stap nie! Stap ten minste vir 30 minute per dag en doen dit behoorlik met vinnige, flink treë. Geen sleepvoete nie! Jaag jou hartklop op en loop met ‘n doel!

Honde is mal oor roetine, so selfs al is jy nie lus om te gaan stap nie, sal hy jou gou aan die gang kry deur jou met smeekoë aan te kyk of met sy snoet voort te du – jou ‘pels’-soonlike afrigter! So, kry jou agterend in rat, gryp daai halsband en leiband en val in die pad! Dit gaan nie net oor jou nie.

2. Swem

Swem is fantastiese kardio-oefening vir julle albei.  Dis lig op die gewrigte en wat’s nou lekkerder as om dit saam met ‘n hondenimf te doen? Swem kom vir honde van nature, alhoewel nie almal daarvan hou nie, so voordat jy nou vir ou Wollie ‘n Speedo en duikbril koop, maak maar eers seker of hy wel van water hou. As jy sien jou hond hou van water, maar hy’s nie goed met swem nie, kan jy altyd vir hom ‘n reddingsbaadjie kry wat hom ondersteun en sy kop bo water hou. Ander honde kan weer doodeenvoudig nie genoeg van die water kry nie (veral sekere rasse).

As jou hond van swem hou, moet jy volle voordeel daaruit trek. Swem is goeie aërobiese oefening, sonder die impak en spanning wat hardloop kan veroorsaak. Die lae-impak oefening kan veral voordelig wees vir die ouer hond wat aan gewrigsprobleme, soos artritis ly. Wees versigtig om nie net enige plek te swem nie. Maak seker die water is skoon en dat daar nie enige dooie visse in is nie. Alge wat op die oppervlak groei mag bakterieë bevat wat skadelik kan wees vir jou hond. Kyk uit vir ‘n droë, geïrriteerde vel as julle in ‘n swembad met chloried swem en spoel jou hond vinnig af nadat hy geswem het. ‘n Meer gereelde bad is ook ‘n goeie idee om sy vel en pels te beskerm.

3. Speel 

Dis dalk nie goeie oefening vir jou nie, maar honde is MAL daaroor om te speel, veral as hulle met hul heel beste maat in die hele wêreld kan speel! Hulle geniet dit vreeslik om ‘n bal, frisbee of ‘n stok te vang en dis baie goeie oefening vir jou woef. Wat van wegkruipertjie – jy kruip weg en hy soek jou? Net om jou te kry sal op sig self ‘n beloning wees! Of steek ‘n lekkerny in die tuin weg sodat hy dit kan uitsnuffel. Hierdie speletjies kan help om ‘n hegte band tussen julle te smee en jy sal dit net so baie geniet.

Moenie dit oordoen nie, maar moet ook nie afskeep nie 

Te veel van ‘n goeie ding kan sleg wees en te min van ‘n goeie ding kan ook sleg wees. Probeer dus maar ‘n middeweg vind. Honde kan ook styf raak en seer gewrigte en rûe kry, maar as jy hulle nie genoeg laat oefen nie mors jy tyd en jou hond sal net al hoe vetter word. So, hoe weet jy jy doen dit reg? Wees op die uitkyk vir die volgende tekens wat jou sal wys of jou hond te veel of te min oefening kry: 

Te min oefening: 

  • ‘n Mollige woef
  • Hiperaktiwiteit, insluitend
    • Oormatige kouery
    • Grawery
    • Blaffery
    • Op-en-af gespringery
  • Die verligting van hulleself in die huis kan ook ‘n teken wees van te min oefening.  

Te veel oefening:

  • Jou hond raak traag gedurende oefening of stop skielik en      gaan lê.
  • Hyg vreeslik, is aamborstig en uitasem.
  • Sigbare tekens van benoudheid.
  • Tekens van verlamming.

Hoor by jou veearts hoeveel tyd hulle vir oefening voorstel. Onthou, nie alle rasse is dieselfde nie en nie almal het dieselfde hoeveelheid oefening nodig nie. Dis belangrik dat jy ‘n gevoel kry van hoe ver jy jou woef kan druk. Hou ook die toestande rondom jou in gedagte: as dit te warm is wag eers ‘n bietjie totdat dit koeler is en moenie dat jou hond enigiets langs die pad optel of eet wat jy nie goedkeur nie. Stel ‘n prettige oefeningslys op, beplan vooruit en bly daarby. Hou jou hond se toestand in gedagte wanneer jy met ‘n oefeningsprogram begin. Dis belangrik om stadig te begin en geleidelik in die program te kom as jou hond oorgewig of onfiks is. 

Jy sal gou-gou voel dat die oefensessies soveel pret is en heeltemal te kort is. Jy sal graag nog meer tyd saam metjou wolbaba wil spandeer.

Scroll to Top