Die Bulterriër - Feite en Geite

Die Bulterriër – Feite en Geite

Die Bulterriër is ongelooflik toegewyd aan sy familie en is lieftallig, vriendelik en baie speels. Die Bulterriër soek altyd aandag en geselskap en kort baie toesig om ‘n goeie troeteldier te wees. As hy vir lang tye alleen gelos word, raak hy verveeld en ruk handuit. Hulle floreer dus by ‘n aktiewe gesin wat hulle met aandag en stimulasie oorlaai. Hulle kort ook iemand wat gedurig die huisreëls – op ‘n sagte manier – afdwing. As dit nie gebeur nie, sal hulle net doodeenvoudig hulle eie reëls maak en daarom is hulle nie ideaal vir iemand wat nog nooit voorheen ‘n hond gehad het nie. 

Die Bulterriër is al beskryf as ‘n driejarige kind in ‘n hondekostuum: erg woelig, weet nie wat om volgende te doen nie en soek sy ouers om hom besig te hou. Die hond se narstreke het al bewonderaars soos president Theodore Roosevelt en Prinses Ann van Engeland (sy het twee Bulterriërs), getrek.

Soos jy kan aflei is die Bulterriër ‘n kruising tussen die Bulhond en die Terriër. Hulle is in Engeland in die 19de eeu vir die toe gewilde hondgevegte geteel en is die ‘gladiator’ genoem. Hulle was egter maar teleurstellend in die gevegsring, maar die terriër-deel het goed in die rotvangring uitgekom. In die 1850’s het ‘n Engelse hondeteler, genaamd James Hinks, begin om die wit Bulterriër te teel, wat ‘n gewilde troeteldier geword het. Dis nie regtig bekend watter ander honde gebruik is om die kleiner weergawe van die Bulterriër te teel nie, maar moontlike opsies is die Dalmatiër, Spaanse “Pointer” en die Windhond. 

Vandag kry ons die ras in ‘n verskeidenheid kleure, maar almal word uitgeken aan hulle eiervormige kop, driehoekige oë en mediumgrootte gespierde lyf. Die Bulterriër het meer spiere as enige ander ras. Hulle is baie lieftallig en is goeie metgeselle. Hulle is lojale honde wat goed by ‘n gesin met ouer kinders sal aanpas. Hulle sal goed in ‘n woonstel aard, mits hulle elke dag stewige oefening kry. 

Bulterriërs sukkel maar met hul gesondheid soos hart- en nierprobleme, verskuifde knieskuiwe, velallergieë, epilepsie en bbsessief-kompulsiewe versteuring (OCD). Doen maar eers genoeg navorsing oor die ras en praat met jou veearts oor algemene Bulterriër probleme voordat jy besluit om een aan te neem.

Aan die pluskant is versorging baie maklik omdat hulle kort hare het en net nou en dan geborsel en gebad hoef te word. 

Ras: Bulterriër

Land: Engeland

Gemiddelde Volwasse Hoogte: 51 – 61 cm

Gemiddelde Volwasse Gewig: 20 – 36 kg

Lewensverwagting: 11 – 14 Jaar

Oefeningsbehoeftes: Daaglikse stewige oefening 

Soortgelyke Rasse: Eiesoortig

Hulpverlenings in Suid-Afrika: http://bullterrier.rescueme.org/za

Scroll to Top