Daar’s min dinge wat so erg is as wanneer jy by die huis kom en jou geliefde troeteldier is nie daar om jou te groet nie. Het hy deur die heining geglip agter ‘n ander dier aan of het ‘n welmenende vreemdeling hom langs die pad opgetel? Daar’s geen manier om te weet nie. Of is daar…?
Dis ‘n groot verantwoordelikheid om troeteldiere te hê en hulle veiligheid moet altyd eerste prioriteit wees. Dis belangrik om vooruit te dink – wat as Flaffie sou wegraak? Wat sou jy kon doen om dit te voorkom? Ons stel voor dat jy reeds noual voorsiening maak vir die ‘wat as’. Afhangende van jou begroting en die moontlikheid dat jou troeteldier kan wegraak, kan jy die volgende drie voorkomingsmaatreëls oorweeg: ‘n identiteitsplaatjie, ‘n mikroskyfie of ‘n GPS-opsporingshalsband.
Identiteitsplaatjie
Identiteitsplaatjies is baie gewild onder die troeteldiergemeenskap. Daar is verskillende tipes: van gegraveerdes tot kits plaatjies waar jy net jou troeteldier se naam en jou telefoonnommer kan bysit en dit aan sy halsband vasmaak. Een van die eerste dinge waarvoor mense soek wanneer hulle ‘n verdwaalde troeteldier kry, is ‘n halsband en naamplaatjie. Dit maak dit sommer baie makliker om die dier en eienaar weer so gou as moontlik te herenig.
Mikroskyfinplanting
‘n Mikroskyfie is seker die mees effektiewe oplossing vir ‘n verlore troeteldier. Dit word hoogs aanbeveel dat elke liewe troeteldier ‘n mikroskyfie het, siende dat alle DBV’s en meeste veeartse en dierehawens met ‘n mikroskyfskandeerder toegerus is. Hulle skandeer alle diere wat na hulle toe gebring word – dis die maklikste manier om uit te vind waarvandaan die diere is.
As jou troeteldier sou wegraak, en hy’t ‘n mikroskyfie, kan jy ‘n oproep vanaf die dierehawe of veearts verwag as jou troeteldier na een van hulle geneem sou word. Duisende troeteldiere raak jaarliks weg, maar die kanse dat julle herenig sal word verhoog drasties as jou troeteldier ‘n mikroskyfie het.
Die mikroskyfie is so klein soos ‘n ryskorrel en dit word deur middel van ‘n inspuiting tussen jou troeteldier se skouerblaaie ingeplant. Elke mikroskyfie het ‘n unieke kode wat jou troeteldier identifiseer. Hierdie kode is gekoppel aan ‘n databasis wat jou naam, adres en kontakbesonderhede bevat. Wanneer die kode in ‘n rekenaardatabasis gesit word, kan jou troeteldier onmiddellik met jou verbind word. Jou troeteldier kan by enige veearts of DBV met ‘n mikroskyfie ingeplant word en sal letterlik lewenslank beskermd wees.
GPS-Halsbande:
GPS-halsbande kan baie handig wees, veral as jou troeteldier ‘n ontsnapkunstenaar is. Jy kan nou ten alle tye weet waar jou troeteldier is. Die GPS-halsband werk nes ‘n normale GPS. Deur middel van ‘n nasporingstoepassing op jou selfoon, kan jy te alle tye sien waar die halsband, dus jou hond, is. Sodra jou troeteldier die erf verlaat, sal die halsband vir jou ‘n waarskuwingsein stuur. Dit sal jou ook help om jou troeteldier op te spoor wanneer julle in die park is. GPS-halsbande help jou om jou troeteldier weer baie vinnig te kry! Alhoewel ‘n GPS-halsband baie handig is, is dit net effektief as dit aan jou troeteldier is. As jou troeteldier die halsband sou verloor, sal jy glad nie weet waar om na hom te soek nie.
Vir volkome gemoedsrus is dit ‘n goeie idee om al drie metodes saam te gebruik; ‘n identiteitsplaatjie, ‘n mikroskyfie en ‘n GPS-halsband.

