Savannekat - Feite en geite

Die Savannekat – Feite en geite

Die Savannekat is een van die grootste huiskatte. Hierdie lenige, half-wilde kat kan tot 11.3 kg weeg. Die Savannekat is een van die jongste katrasse en het in 1986 haar verskyning gemaak toe ‘n wilde Afrika-tierboskat met ‘n siamese huiskat geteel is. Op 7 April 1986 is hierdie nuwe ras se eersteling, genaamd Savannah, in Amerika gebore.

Die Savannekat is vreeslik aktief en is mal daaroor om hoog te spring, vir wandelinge aan ‘n leiband te gaan, nuwe areas te verken en om selfs in water te speel. Die Savannekat geniet die lewe in die vinnige baan en is vol selfvertroue, oplettend en vreeslik vriendelik – hulle sal selfs teen ‘n vreemdeling opspring om kennis te maak en met hulle “kuier”. Nou nie jou tipiese “los-my-uit”-katjie nie, nè?

Hulle is geneig om goed af te stamp met hul berugte spronge, so maak maar seker dat jou huis “savanne-bestand” is. Die Savanne kan hoër en verder as enige ander huiskat spring. Maak ook seker dat elektriese drade teen knagende katjies bestand is. Interaktiewe speelgoed en hope stimulerende aandag is altyd ‘n goeie idee om jou kat se kop besig te hou, asook hul oerinstinkte – maak net seker dis uitdagend en sterk genoeg vir hulle rowwe spelery.

Oor die algemeen is die Savannekat ‘n gesonde ras en het hulle nie enige genetiese probleme nie, maar ‘n jaarlikse ondersoek is altyd nodig om seker te maak jou kat is gesond. Die Savanne moet ten minste een of twee keer per week geborsel word om van ou hare ontslae te raak en velolies te versprei. Dis ook beter om hul liefs binnenshuis te hou omdat hulle maklik gesteel sal word. Gereelde wandelinge aan ‘n leiband word aanbeveel. 

Die Savannekat het baie lang bene en is amper net so groot soos ‘n mediumgrootte hond. Swart traanmerke loop vanaf die ooghoeke langs die neus af na die snorbaarde, wat help om lig te weerkaats terwyl hulle jag. Hulle reuse ore werk soos ‘n radar en kan tot 180 grade draai, wat dit vir hulle moontlik maak om totaal en al op hul prooi in te zoem. 

Die Savanne is ‘n wonderlike troeteldier vir die gesin, maar hulle grootte, krag en intelligensie moet in ag geneem word voordat jy een kry. Om ‘n Savannekat te hê, is soos om ‘n hond te hê: hulle is mal oor water en wandelinge. Hulle het ook baie spasie nodig en geniet die wilde kant van die lewe. Hulle moet weggehou word van kleiner troeteldiere soos hamsters, marmotte en visse, want hulle lyk nes hul natuurlike prooi. Die Savanne is ‘n uitgeslape jagter en sal heelwaarskynlik verby meeste van jou voorsorgmaatreëls kan kom.

Savannes kom baie goed oor die weg met katrasse met ‘n soortgelyke persoonlikheid en aktiwiteitsvlak, soos Abessiniërs, Siamese en Bengale, of die meer rustige katte soos Maine Coons, Ragdolls en die Korthaarhuiskat, wat net luiweg sal gaap en toekyk hoe die Savanne aan die kandelaar rondswaai. 

Gemiddelde Volwasse Hoogte: 53 – 63.5 cm

Gemiddelde Volwasse Gewig: 6.3 – 11.3 kg

Lewensverwagting: 17 – 20 jaar

Oefeningsbehoeftes:   Daaglikse oefening word benodig. 

Soortgelyke Rasse: Bengaalse Kat 

Hulpverlenings in Suid-Afrika: Geen

Scroll to Top